Die sanger Adam Barnard moes Dinsdag by ‘n kliniek in Potchefstroom een van sy gereelde dialise-behandelings ontvang, maar hy het nooit vir sy afspraak opgedaag nie.
Sy ma, Christie Barnard wat hom na Potchefstroom sou neem, was buite Parys in ’n kop-aan-kop-motorbotsing betrokke en is opslag oorlede.
Die tragiese nuus is deur Adam se agent, Henri Scott, bevestig.
Die ongeluk het plaasgevind op die pad tussen Sasolburg en Parys. Sy was op pad na Parys, waar Adam woon, om hom op te tel vir sy besoek aan die kliniek.
Die ander slagoffer is Adam se goeie vriend van Parys se pa, Sarel Human.
“Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en liefde. En ons hoop ons kan wees vir ons vriende wat hul nodig het in hierdie tyd,” sê Adam in ’n verklaring op sy Facebookblad.
Henri sê op hierdie stadium het hulle nie verdere inligting oor die ongeluk nie. Die familie is ook nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Adam is sedert verlede jaar verskeie kere in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem waar hy toetse ondergaan het vir sy komende nieroorplanting.
In Maart is hy in die Rehabilitasie-eenheid van die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria opgeneem vir ’n rehabilitasieprogram.
Verlede maand het hy ook behandeling ontvang vir ’n infeksie wat hy opgedoen het nadat die peritoneaalsak, waardeur hy dialise ontvang, verwyder is.