Debuutalbum vrygestel van Lizanne Barnard en dit is akoesties

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd word ‘n album vrygestel wat eenvoudig net anders is. Eintlik, heeltemal anders! Lizanne Barnard se debuutalbum is akoesties, rou en eerlik. Waar sy nie wil sing nie, praat sy, want sy dra deur die stiltes tussen note ‘n boodskap oor met haar eerlike, ongeslypte diamantstem.

Hierdie pianis, fluitis, sangeres, liriek- en musiekskrywer is musikant in murg en been. Lizanne het haar graad in B Mus Uitvoerende Kuns verwerf aan die Universiteit van Pretoria in 1988. Sy skop haar liedjieskryf- en sangloopbaan af op ‘n vroeȅ ouderdom en word in 1993 aangewys as algehele wenner asook wenner van die eie komposisie afdeling vir die ATKV CRESCENDO kompetisie.

Lizanne was grootliks verantwoordelik vir die klankbaan van die bekroonde verhoogproduksie, UIT DIE BLOUTE waarin die werk van Eugène Marais vereer is. Dié produksie het ‘n Herrie-toekenning verower vir die “Mees Innoverende Produksie” by die KKNK in 1996 en byna 200 vertonings is in ’96 en ’97 landswyd aangebied. ‘n Herlewing van UIT DIE BLOUTE met nuwe akteurs en regisseur Henriëta Gryffenberg open by Innibos 2018 en al die komposisies, verwerkings en musiekregie is deur Lizanne behartig.

Kom ons wees stout en noem haar die nuwe Amanda Strydom. Vir GEVLERKTES het sy spesifiek gebruik gemaak van die kontemporêre skrywes van Lidi de Waal omdat die temas van hierdie skrywer se werk so perfek resoneer met haar eie hart en lewe. Die lirieke spreek van ervaring; soos haar kinderdaeherinneringe in Fraserburg waar haar pa gekuier het en sy in die bakkie geslaap het met die titel, Patat se Hotel. Jy hoor haar seer van verlange in PROMENADE waar sy na ‘n geliefde soek.

Hierdie album is akoesties opgeneem met prominente instrumente wat hier en daar ‘afshow’ met kragtige solo’s en steel tussen versies hul eie kollig. Hierdie album is vervaardig in samewerking met Lizanne se 22-jarige musikale seun, Adam Helberg oftewel “Pyjama Shark” wat saam met haar optree in die verhoogproduksie BêREBOKSIE VOL VLERKE asook in Uit die bloute.

Lizanne se musiek is vir die gevlerkte ore wat hou van iets wat die oor prikkel en die palet meer uitdaag, as net streel. Hierdie luister jy alleen tot dit jou hart se ritme vir goed verander en jou gedagtes vlerke gee.

Loer hier onder na een van haar musiekvideo’s:- Lizanne Barnard, Lidi de Waal – Stem van die See

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.