Ken jy vir Rona van Blerk, wel hier is meer oor haar en haar eerste enkelsnit!

Rona van Blerk, ’n passievolle donkerkop met ’n sielvolle stem, is vinnig besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf. Haar eerste enkelsnit, Veilig, word hierdie week uitgereik en gaan beslis verskeie musiekharte, regoor die land, verower.

Veilig is ’n Afrikaans-akoestiese liedjie met ’n unieke pop-aanslag uit haar eie pen en gaan daaroor dat elke mens graag veilig wil voel, ten spyte van terugslae in die lewe. Die treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se sterk, strelende stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.

“Persoonlike ondervinding het my geleer dat jy selde so veilig is as wat jy dink. Ons het in vandag se tyd dit juis so broodnodig dat mense weer eerlik en opreg moet wees en ek wou hê dat die liedjie luisteraars se harte moes vasgryp, sonder om te swaar oor te kom. Die lirieke is diepsinnig en is gebore uit my eie lewenservaringe. Dit is bevrydend om te kan sing oor dít wat mens onveilig laat voel, want die gevolg daarvan is geborgendheid, veral wanneer jy besef dat ander ook met hierdie gedagtes kan identifiseer,” vertel die sangeres.

“Die diepste behoefte van elke mens is emosionele veiligheid… ook dít is ons nie altyd beskore nie, selfs nie binne ’n liefdesverhouding nie. Gelukkig kan ons uitsien na ’n ‘eendag’ waarin ons veilig sal wees, sonder om daardeur die hede te wil ontvlug.”

’n Musiekvideo, wat deur Lourens Luyt aanmekaargesit is, van die enkelsnit is onlangs in die bosbouplantasies rondom Piet Retief verfilm en sluit ook beeldmateriaal uit haar kinderdae in. “Ek het in Piet Retief grootgeword en ons gesin het baie pret gehad in die plantasies. Tussen die baie bome het ek ook altyd veilig gevoel. My pa het baie moeite gedoen om gesinsvideos van my en my sussies te maak en dit was net logies om van daardie beeldmateriaal te gebruik,” verklap sy.

Hier is ‘n musiekvideo vir jou van haar om an te luister:- Rona van Blerk – Veilig

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.