Lizandra Winter en Joshua Na Die Reën snoer kragte saam

Lizandra Winter en die alombekende Joshua na die Reën kom al ’n lang pad. Lizandra het voor sy haar selfgetitelde solo album gedurende 2017 uitgereik het, gereeld saam met hom opgetree. Hulle het ’n hegte vriendskap en hulle stemme komplementeer mekaar op ’n merkwaardige wyse.

Dié twee talentvolle sangers, wat ook ongelooflike musikante is, het kragte saamgesnoer en reik nou ’n hoendervleismooi weergawe van die Christa Steyn treffer, Ek wil vir jou, uit.

“Terwyl ek in 2015 op toer was saam met Jacques, het ons gesels oor legendes in die musiekbedryf en oor hoeveel kosbare liedjies deel vorm van die geskiedenis van Afrikaanse musiek. Ek wil vir jou was onder andere een van my gunstelinge en ek het genoem dat ek dit graag eendag sou wou opneem. Toe ek in 2016 besig was om aan my solo-album te werk, het ek vir Jacques gesê dat ek graag die lied as ’n duet saam met hom wil opneem. Hy was baie opgewonde oor die idee!” vertel Lizandra opgewonde.

“Ons wou oorspronklik in ’n ander rigting gaan met die verwerking, maar het elke keer teruggekeer na die meer ballade, klassieke gevoel. Ek voel Jacques se klavier en harmonisering het die lied beslis ’n unieke en nuwe kleur gegee en ek dink Christa Steyn sou in haar noppies gewees het met wat ons gedoen het. Wat ‘n voorreg om so ’n legende se lied te kan sing,” gaan sy voort.

Joshua na die Reën (Jacques de Villiers) sê: “Die belewenis om deel te kon wees van Lizandra Winter se debut album produksie was vir my ’n groei- en leerproses wat ek met uiterste respek en dankbaarheid koester. Om saam met haar ’n duet te kon opneem, is vir my ’n voorreg, nie net omdat ek haar ag as een van die talentvolste mense wat ek ken nie, maar omdat ek die hart ken agter dit wat sy skryf en sing.”

“Ek wil vir jou. Wil ons almal nie maar vir mekaar die lewe ’n beter plek maak nie. Christa Steyn, jou woorde en melodie resoneer met soveel gepastheid deur ons lewens, ek hoop vanwaar jy luister dat hierdie verwerking jou goedkeuring wegdra. Hierdie is met liefde van my en Lizandra!” – Joshua na die Reën

Douw Steyn, die seun van oorlede Christa Steyn het by navraag die volgende gesê: “Ek wil vir Joshua na die Reën en Lizandra Winter geluk wens met hulle vertolking van Ek wil vir jou. Dit verskaf my groot vreugde dat hulle die lied hul eie gemaak het, sonder om die kern daarvan te verander.

Ek is gaande oor hoe hulle die melodie net ’n raps hier en daar gebuig het om hulle eie kleur daaraan te gee. Die verwerking en eenvoud van die klavierdeel is waarlik treffend. Buiten dat beide pragtige stemme het wat saam uiters goed klink, werk dit omdat hulle vertolking so eerlik is. My ma sou mal daaroor wees.”


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.